Pas op vir e-sigaret

Die sogenaamde e-sigaret is nie so onskuldig as wat aanvanklik verwag is van die nuwe uitvindsel wat die gewone tabak sigaret moet vervang nie.

Wetenskaplikes sê die kunsmatige sigaret, bekend as die e-sigaret, is inderwaarheid ’n tydbom wat enige oomblik kan ontplof.

Die industrie hou die e-sigaret voor as ’n “gesonde” manier om afstand te doen van die tabak rookgewoonte, maar in praktyk is dit ’n manier om nooit afstand te doen van die rookgewoonte nie.

’n Internasionale Forum van Longspesialiste  waarsku dat die e-sigaret mense weer kan terugdryf na die egte tabak sigaret, en bestaan die moontlikheid dat die roker dan veel meer sigarette gaan rook as voorheen.

Die spesialiste sê ’n veel strenger maatreël behoort te geld vir die gebruik van die werklike e-sigarette omdat dit deur skoliere gebruik word wat later tabak sigarette begin rook.

Opnames het getoon dat die toename in tabak sigarette drasties gestyg het onder skoolgaande leerlinge in die VSA wat begin het met e-sigarette.

Die e-sigaret bevat ook ’n mate van nikotien wat een van die skadelikste elemente is in gewone sigarette, en sodra die liggaam daaraan verslaaf is, neig die gebruiker na die tabak sigaret.