Oostenryk en Rusland bly vriende

Die onverwagse besoek in Oostenryk deur president Vladimir Poetin van Rusland het ten doel gehad om sanksies opgehef te kry teen sowat 150 sleutelfigure en 38 Russiese maatskappye.

President Poetin se besoek by kanselier Sebastian Kurz was egter nie suksesvol nie, en is daar in ’n gesamentlike verklaring slegs melding gemaak van die wedersydse vriendskap wat ongeskonde bly.

Die sanksies kan moontlik opgehef word teen September wanneer Oostenryk die voorsitter is van die Europese Unie, maar dit is geen uitgemaakte saak nie.

Lidlande van die Europese Unie het hulle tevredenheid uitgespreek met kanselier Kurz wat die belange van die EU voorop gestel het en nie toegegee het aan president Poetin se verwagtinge nie.

Sanksies is deur die Europese Unie teen Rusland ingestel nadat die land betrokke geraak het in die afskeiding van sekere gebiede van die Oekraïne wat pro-Russies is en deur Rusland ondersteun is.

Foto – President Poetin en kanselier Kurz