Motorrubriek – Mitsubishi Triton 2.4Di-4×4 At Athlete

Die nuutste toevoeging tot die Mitshubishi reeks is die Athlete. Hierdie is ‘n beperkte reeks en is uitsonderlik met nie veel van ‘n prysverhoging nie. Deur gebruik te maak van ‘n oranje streep aan die buitekant en binne in die voertuig maak oranje deel uit van die swart en oranje geklede sitplekke.

‘n Oranje “Athlete” insetsel in die swart gedeelte van die sitplek rugleuning rond die prentjie binne verder af. Aan die buitekant is die sierrooster, die voor en agter stampers, ‘n ingeboude bak deksel drukvlerk, sykant trappe, sykant spiëels, deur handvatsels in swart afwerking gedoen en dit tesame met die swart allooi wielnawe, rond dit die buite prentjie goed af.

Die 2,4 liter, vier silinder, turbo aangejaagde kragbron verrig sy werk met min moeite want daar is 133kW krag en 430 Nm wringkrag beskikbaar teen 2500 o.p.m. terwyl ‘n vyfspoed outomatiese ratkas sorg dat die krag na die wiele oorgedra word. ‘n Keuse kan gedoen word tussen 2H, 4H en 4L om die wringkrag wat beskikbaar is aan te wend op so ‘n manier dat die maksimum benutting van die krag moontlik is. Dit kan selfs in 4×4 gebruik word op die oop pad.

Om die ratte per hand te kan wissel is daar ratspane agter die stuurwiel gemonteer. Dit is veral handig wanneer daar oor ruwe terrein beweeg word. Toetse wat gedoen is op ruwe terrein het aangetoon dat hierdie knaap nie vir enige van sy mededingers hoef terug te staan nie. Dit is net so tuis op ruwe terrein as wat dit tuis is op die snelweg. Op die snelweg laat dit die indruk dat jy eintlik in ‘n luukse motor op die pad is.

Veiligheid van die insittendes is nie agterweë gelaat nie. Sewe lugsakke is binne in die voertuig gemonteer en om die prentjie verder af te rond, is die remstelsel van hoogstaande standaard. Die passasiers op die agterste sitplek het baie gerief en daar is voldoende beenspasie sodat ‘n gemaklike sitposisie ingeneem kan word. Met die sykant trap gemonteer kan daar met gemak in die bakkie ingeklim word.

Hierdie is ‘n werkesel van formaat en met ‘n vrag op is dit in sy element. Indien u in die mark is vir ‘n bakkie, kan u hierdie een gerus op u aankoop lys plaas en kan u dit vir ‘n toetsrit gaan neem by u naaste Mitsubishi agentskap.