Motorrubriek – Hyundai i20

Hyundai se produkte is baie gewild maar die i20 is een van die gewildste op die pad. Waar ‘n mens ook al beweeg, daar is altyd een te sien. Hetsy die 1200 of die 1400.

In sy klas is die werkverrigting van nie een van die modelle te versmaai nie. Volgens die vervaardiger is die 1200 byvoorbeeld in staat om van 0 tot 100 te versnel in 13.3 sekondes terwyl die 1400, 11.4 sekondes neem. Nie een van die twee is ‘n “blitsbuks” nie maar die werkverrigting vind plaas met gemak. Die topsnelheid van die 1200 is 165 km/u.

Die 1197 kubieke sentimeter, 4 silinder inlyn, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep model se krag is 61 kW teen 6000 o.p.m. en die wringkrag is 115Nm teen 4000 o.p.m. ‘n Vlekvrye staal uitlaatstelsel verseker dat daar van die uitlaatgasse ontslae geraak kan word.

Die 2018 motor is so effe opgekikker en die sierrooster se vorm is verander, die kolligte is verander en aan die agterkant is daar verandering aangebring aan die agterligte. Nuwe vorm truligte en kolligte is gepas en dit met die Hyundai embleem steeds teenwoordig, skep ‘n nuwe indruk van kwaliteit.

Van die kant gesien is daar min verandering en dit is die wielnawe wat ‘n verandering ondergaan het en swart plastiek afwerking aan die onderkant van die bakwerk wat die indruk skep dat dit ‘n “crossover” is. Die binne-afwerking is nie agterweë gelaat nie en ‘n nuwe veranderde aanraakskerm is gepas terwyl die luguitlate se vorm en aansig verander is. Tesame met dit is daar ‘n lugversorger, radio, twee lugsakke, skyfremme voor en agter, ‘n vier kanaal ABS met EBD ondersteuning sorg dat die voertuig tot stilstand kan kom, elektries beheerde voorste vensters, ‘n aanboord rekenaarstelsel, hand verstelbare sitplek toerusting,’n sentrale sluitstelsel en nog talle ander handige stukke toerusting. Met die verskillende verstel posisies van die sitplekke van die bestuurder, kan daar met min moeite ‘n gemaklike sitposisie op die materiaal bedekte sitplekke, ingeneem word. i20 is in ses verskillende kleure beskikbaar en al hierdie kleure is “sag” op die oog en baaie aantreklik!

In die 1200 reeks is daar twee modelle waarin ‘n vyfspoed ratkas gepas is wat die voorwiele aandryf en op die snelweg kan die voertuig met gemak die snelheidsperk handhaaf. Padgedrag is van ‘n goeie standaard en selfs slaggate in die pad ontstig dit nie teveel nie.

Hierdie is inderdaad ‘n voertuig om in gedagte te hou wanneer daar ‘n voertuig van hierdie grootte aangekoop moet word. U kan gerus u naaste Hyundai handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem. Wanneer dit gebruik word, gee dit die indruk dat dit ‘n soliede voertuig is.