Masedonië kry nuwe naam

Die twis wat dekades lank geduur het tussen Griekeland en Masedonië, het eindelik gestop nadat die twee lande ooreengekom het oor ’n nuwe naam vir Masedonië.

Die land sal, volgens die eerste minister Zoran Zaev, voortaan bekendstaan as die Republiek van Noord-Masedonië, en daarmee ’n era van langdurige konflik tussen die twee lande beëindig.

Die Griekse premier, Alexis Tsipras, het die nuwe ooreenkoms aan die president, Prokopis Pavlopoulos, oorgedra en gesê die “goeie ooreenkoms” wat bereik is voldoen aan die voorwaardes wat Griekeland gestel het.

Die nuwe naam sal in die buiteland en die binneland van die Republiek van Noord-Masedonië gebruik word, en sal die amptelike naam van die land wees.

Premier Zeev sê sy land se nuwe naam is volgens ooreenkoms en daar is geen terugkeer na enige ander naam nie, en sal amptelik in gebruik kom voor toetrede tot Navo of die Europese Unie.

Masedonië het sy naam gekry nadat die land afgeskei is van Joego-Slawië, maar die naam het nie byval gevind by Griekeland nie, en sedert 1991 is die twee lande in ’n erge woordewisseling gewikkel tot nou waar ’n ooreenkoms bereik is.

Griekeland het beswaar gemaak teen die benaming omdat ’n groot deel van die land bekend is as Masedonië, wat nie versoen kan word met die vorige naam van die Republiek van Noord-Masedonië nie.

Maar een persoon het egter ’n stok gesteek in die wiel van die naamsverandering toe die president van Masedonië, Gjorge Ivanov, gesê het daar bestaan geen moontlikheid dat hy as staatshoof van sy land, die gewraakte ooreenkoms sal onderteken nie.

Foto – Griekse kiesers maak beswaar