Invoer: Europa slaan terug

Kort nadat die Verenigde State van Amerika se invoer tariewe in werking getree het wat Kanada, Meksiko en Europa raak, het die Europese Unie, teruggeslaan met ’n lang lys produkte wat belas word.

Die Europese Unie en Kanada het die Amerikaanse handelstariewe teengestaan met ’n lang lys produkte wat vanaf die VSA ingevoer word, en wat nou onderhewig sal wees aan invoerbelasting om ’n “ewewigtige balans” te behou.

Kort nadat die EU sy lys produkte bekend gemaak het, het Meksiko ook gereageer om belasting te hef op goedere afkomstig uit die VSA.

’n Woordvoerder van die Europese Unie het ontken dat hulle ’n eerste stap geneem het om ’n handelsoorlog met die VSA te begin, en sê die instel van invoerbelasting op Amerikaanse goedere is bloot om die balans reg te hou.

Waarnemers het gewaarsku dat Amerika belastings kan hef op motors uit Europa, al sou dit beteken dat die voertuie elders in die wêreld vervaardig word.

Dit kan die Europese lande ’n geweldige knou toedien wat die EU waarskynlik ten alle koste sal wil voorkom en bestaan die moontlikheid dat opvolg gesprekke gevoer kan word om die dreigende “oorlog” af te weer.