Griekeland doen dit in styl

Na agt jaar van suinige finansiële bestuur, en ingeboude hervormings deur die nuwe regering wat onderneem het om die land uit sy geldelike verknorsing te help, is Griekeland vanaf Augustus weer baas op sy plaas.

Die regering het tallose slapelose nagte van beraadslaging deurgemaak om die punte bymekaar te kry, maar het met harde werk en deursettingsvermoë uiteindelik daarin geslaag om die land se laaste kliënt te wees wat die Europese Noodfonds se hulp terugbetaal het om weer op eie bene te staan.

Vanaf Augustusmaand is Griekeland weer ekonomies ’n vry land, en die minister van finansies sê dit is ’n geskiedkundige dag in die bestaan van Griekeland.

Die vorige regering het Griekeland wanbestuur en in die grootste skuldlas gedompel wat die land nog ooit gehad het.

Oor maande het harde woorde geval ’n uiteindelik is ’n nuwe regering aan bewind geplaas wat met die Europese Unie die stryd aangeknoop het om later die een terugbetaling na die ander te maak deur ekonomiese hervormings in te stel.

Griekeland moet egter steeds versigtig omgaan met sy finansies aangesien die balans van 96 miljard euro nog terugbetaalbaar is, maar die paaiemente is ligter aangesien die tydperk van terugbetaling met tien jaar verleng is.

Foto – Die Griekse baanbrekers op ekonomies gebied