Gauteng mors R3 miljard water

Die VF Plus het met skok kennis geneem dat byna R3 miljard se water in die 2016/17 boekjaar deur munisipaliteite in Gauteng vermors is.

Die inligting is vervat in ʼn antwoord van die LUR vir plaaslike regering in Gauteng, Uhuru Moila, aan die hand van ‘n geskrewe vraag van die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, oor wat dit die belastingbetaler in dié provisie gekos het aan watervermorsing oor hierdie tydperk.

Watervermorsing deur munisipaliteite in Gauteng word veroorsaak deur diefstal en beskadiging van infrastruktuur, waterlekkasies, gebarste pype, reservoirs wat lek, geblokte rioolstelsels, swak instandhouding en ou infrastruktuur.

Alle munisipaliteite in Gauteng is groot watervermorsers en daar kan nie ‘n onderskeid getref word tussen skuldig en onskuldig nie. Die vermorsing van water per munisipaliteit sien as volg daarna uit:

  • Johannesburg-metro (Alexandra, Diepkloof, Diepsloot, Ennerdale, Johannesburg, Johannesburg South, Lawley, Lenasia, Lenasia South, Meadowlands East, Meadowlands West, Midrand, Orange Farm, Pimville, Randburg, Roodepoort, Sandton, Soweto): R1 093 400 000
  • Tshwane-metro (Akasia, Atteridgeville, Bronkhorstspruit, Centurion, Cullinan, Ekangala, Ga-Rankuwa, Garsfontein, Hammanskraal, Irene, Kudube, Mabopane, Mamelodi, Pretoria, Pretoria North, Rayton, Refilwe, Roodeplaat, Soshanguve, Temba, Winterveldt: R503 045 899
  • Stad Ekurhuleni (Alberton, Bedfordview, Benoni, Birchleigh, Boksburg, Brakpan, Clayville, Daveyton, Dunnottar, Edenvale, Geduld, Germiston, Katlehong, Kempton Park, Kwa-Thema, Machenzieville, Nigel, Olifantsfontein, Springs, Tembisa, Tokoza, Vosloorus, Vorsterkroon): R787 774 009
  • Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging): R220 549 675
  • Mogale City (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift): R87 736 629
  • Rand West (Randfontein, Westonaria): R51 854 325
  • Lesedi (Devon, Heidelberg, Nigel, Vischkuil): R1 544 106
  • Merafong City (Carletonville, Fochville, Wedela): R42 485 098
  • Midvaal (De Deur/Walkerville, Eikenhof, Meyerton, Vaal Marina): R26 224 438
  • Totale bedrag                    :           R2 814 614 179

Die VF Plus is bekommerd oor die omvang van watervermorsing in Gauteng en is van mening dat indringende ingrypings deur munisipaliteite gedoen sal moet word om te voorkom dat Gauteng in die toekoms watertekorte gaan ervaar weens die vermorsing.

Die Gautengse regering sal meer druk op munisipaliteite moet plaas om toe te sien dat die onnodige vermorsing van water stopgesit word en dat infrastruktuur verbeter-, en in stand gehou word, sê mnr. Van Staden.

Foto: Mnr. Philip van Staden