Cele se hoëdigtheidsprogram

Bheki Cele, minister van polisie, het sy misdaad bekampingstrategie aangekondig.

Dit behels ‘n sogenaamde hoëdigtheid stabilisasie ingrypingeenheid.  Daar gaan glo ‘n uittog wees vanuit administratiewe kant na operasionele kant.

‘n Paar luitenant-generaals gaan ook toesig hou en oud-polisielede gaan sigbaar ontplooi word. Misdaad knelpunte gaan nou baie lede van die SAP sien met padblokkades en die lugvleuel van die SAP gaan ook ondersteuning  verleen.

Waarnemers beskou dit as ‘n klomp woorde maar daar sal gesien moet word wat dit werklik gaan oplewer.

Die VF Plus was meer toegeeflik en sê hy verwelkom die misdaadplan maar sê die plan ontbloot duidelik van die ernstige gebreke wat in die polisie bestaan.

Die erkenning dat misdaadintelligensie vir sowat ses jaar disfunksioneel was, is ʼn ernstige aanklag teenoor vorige kommissarisse- en ministers van polisie, sê dr. Pieter Groenewald.

“Dit het eers ʼn ernstige vlaag transito-rooftogte soos tans gekos om te besef dat georganiseerde misdaad net effektief bestry kan word met beter misdaadintelligensie deur die misdadige groepe binne te dring.

“Die erkenning van korrupsie in die polisie moet daadwerklik aangespreek word anders is die misdaadplan gedoem tot mislukking.

“Die VF Plus verwelkom veral die besluit om sigbare polisiëring te verhoog. Die 2010-Sokkerwêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika het gewys dat behoorlike sigbare polisiëring ʼn beduidende afname in misdaad tot gevolg gehad het.

“Die besluit om offisiere beter op te lei is in werklikheid ʼn klad op die naam van die polisie aangesien dit effektief ʼn erkenning is dat hulle voorheen nie voldoende opgelei was vir hul taak nie.

“Die beter aanwending van die polisie se taktiese afdeling tesame met beter skietopleiding vir alle lede sal gewis ʼn bydrae lewer om misdaad beter te bestry.

“Die spesiale fokus op motorkapings, rooftogte, en veral rooftogte by woonhuise moes lankal gebeur het aangesien dit deel vorm van die trio-misdade. Veral rooftogte by woonhuise is die misdaad wat die publiek die meeste vrees. (Die derde van die trio is rooftogte elders as in woonhuise.)”

Dit is wel jammer dat plaasmoorde nie ook deel van hierdie fokus is nie, maar die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sal dit persoonlik met die minister opneem.