VSA kap Duitsland oor Verdediging

Die nuwe minister van buitelandse sake in Amerika, Mike Pompeo, het tydens sy besoek by die Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, hom skerp uitgelaat oor dié land se verdedigingsbegroting.

Hy het tydens die Navo vergadering, waarby talle buitelandse ministers teenwoordig was, gewys daarop dat Duitsland en verskeie ander lidlande van Navo, hulle bydraes moet verhoog om effektiewe verdediging in stand te hou.

Die Duitse minister het sy land verdedig met nietige argumente dat humanitêre hulp verleen word aan Sirië en Irak en dat die nuwe koalisieregering van kanselier Merkel kyk na nuwe benadering om die begroting aan te wend.

Minister Pompeo, wat slegs twee dae in sy amp is, het egter nie gehuiwer nie om Europese lande aan te moedig, en veral Duitsland, om hulle begrotings sodanig aan te pas dat Navo effektief kan funksioneer.

Hy het die standpunt wat vroeër deur president Trump gehuldig is, weer uitgewys en gesê dit is noodsaaklik dat Navo vir sy eie veiligheid moet werk, en daarvoor is groter bydraes deur lidlande noodsaaklik.

Op ’n vraag waarom Europese lande nie genoeg doen nie, het hy daarop gewys dat die lande moet nakom waarvoor hulle saam met die VSA ooreengekom het in ’n amptelike akkoord van jare gelede.

Foto – Minister Mike Pompeo