Trump: Aggressor of Vredemaker?

Kort voor Donald Trump verkies is tot die amp van Amerikaanse Eerste Burger, het hy tekens getoon van aggressie – en daardie aggressie het na vore gekom toe hy in die verkiesingsveldtog nie gehuiwer het om ander Republikeinse presidentskandidate skerp en selfs beledigend aan te val nie.

Die Demokratiese Party se kandidaat, Hillary Clinton, moes ook voel hoe dit is om onder die skerp tong van Trump deur te loop.

Kort na die verkiesing word Trump wêreldwyd verkwalik vir sy beleid om ’n reuse grensmuur op te rig tussen sy land en Meksiko, en moes talle senatore deurloop omdat hulle van hom verskil het oor die wenslikheid en koste van die muur.

Talle Republikeine moes uiteindelik hulle goed vat en padgee uit die poste waarin Trump hulle aangestel het, en selfs die hoof van die CIA is uit sy pos ontslaan.

Daarna begin die Amerikaanse president met ’n “gevaarlike spel” deur druk toe te pas op Noord-Korea, en met groot militêre operasies wat saam met Suid-Korea uitgevoer is, het president Trump die eerste, maar wel onsigbare, oorwinnings behaal.

Uiteindelik word swaar sanksies teen die kommunistiese skiereiland ingestel onder aanvoering van Amerika en word die kernprogram van Kim Jong-Un minder aantreklik vir hom en sy land se bevolking.

Vrese dat Donald Trump afstuur op die begin van ’n wêreldoorlog, het oral opgeklink, maar die man wat Amerika weer sterk wou maak, het vreesloos voortgegaan met sy druk op die kommunistiese land.

Uiteindelik swig die raserige leier van Noord-Korea, en nou skree miljoene mense ”Nobelprys vir vrede aan Trump”.

Kenners betwyfel dit of die toekenning gemaak sal word, maar die feit dat daar stemme opgaan oor die wêreld om hom te vereer, spreek daarvan dat hy ’n uitstekende strateeg is wat “Amerika weer sterk gaan maak”.