Talle moondhede vergader oor Iran

Leiers uit talle lande, waarvan die belangrikste Rusland, Sjina, Frankryk, Duitsland en Brittanje is, het in die Oostenrykse hoofstad Wene vergader met die doel om te besin oor hoe die kernooreenkoms met Iran staande gehou kan word noudat Amerika onttrek het.

Die lande wat almal ten gunste van die ooreenkoms is, wil verseker dat Iran kan voorgaan om sake te doen met die lande van die wêreld, terwyl die VSA sanksies toepas op Iran.

Iran het vroeër gewaarsku dat die Europese lande nog nie bewys gelewer het dat die kernkragooreenkoms staande sal bly wat hom in staat stel om met al die lande handel te dryf nie.

Die akkoord wat deur Barack Obama in 2015 met Iran aangegaan het, plaas nie ’n werklike verbod op Iran se vervaardiging van ballistiese missiele nie, en dit is die hoofrede waarom president Trump die VSA onttrek het uit die ooreenkoms.

Amerika het gesê die VSA sal die strengste sanksies wat nog ooit in die geskiedenis toegepas is, op Iran van toepassing maak, en dit is een van die belangrikste faktore waarom die leiers vergader.

’n Woordvoerder van die Russiese afvaardiging het gesê die ooreenkoms kan staande gehou word indien almal teenwoordig by die vergadering, die politieke wil openbaar.