Taiwan moniteer Sjinese bomwerpers

Die Ministerie van Verdediging in Taiwan het doeltreffende maatreëls ingestel om te verseker dat die eiland beveilig is teen enige moontlike militêre aggressie uit Sjina.

Die inligting is deur die ministerie in ’n verslag vrygestel en meld dat die militêre provokasie uit Sjina kom kort nadat Taiwan ’n diplomatieke bondgenoot verloor het.

Taiwan se weermag het die afgelope naweek begin om vegvliegtuie en bomwerpers van Sjina deurlopend te skandeer nadat H-9 bomwerpers opgemerk is wat oor die Bashi Kanaal in die suide van die land voorgekom het.

Die Departement van Verdediging het gemaan dat die bevolking nie onnodige alarm moet maak nie, maar wel paraat moet wees vir enige gebeurlikheid, terwyl die lugverkeer behoorlik gemoniteer word.

Vroeër die maand het Taiwan sy vegvliegtuie ontplooi en op gereedheid geplaas nadat  ’n Sjinese H-5K bomwerper oor die Luzon Strait, ten suide van die land opgemerk is.

Sedert die goeie verhouding tussen president Trump en president Tsai Ing-wen ontwikkel het, is die spanning verhoog met Beijing.

Sjina vrees die dag as Taiwan ’n referendum hou oor moontlike onafhanklikheid, want dit kan ’n internasionale geding veroorsaak wat Beijing moeilik kan stop.