Skotte in opmars vir vryheid

’n Opmars van duisende kiesers in Glasgow, Skotland, om die volk se onafhanklikheid te eis, het die afgelope naweek weer die soeklig geplaas op die land se strewe om weg te breek uit die Verenigde Koninkryk.

Die optog volg vier jaar nadat ’n referendum gehou is, maar waartydens diegene wat afstigting voorstaan, nie ’n meerderheid kon kry nie.

Die organiseerders het op die sosiale netwerk gesê dat alle Skotte wat ten gunste van onafhanklikheid is, moet meedoen aan die optog wat verlede Saterdag gehou is.

Meer as 25 000 Skotse kiesers het aan die optog deelgeneem met vlae, baniere en slagspreuke wat waarskynlik die druk op die streeksregering van die Skotse Nasionale Party verhoog om ’n opvolg referendum te hou.

In 2014 het Skotland ’n referendum gehou waarin 84,6% van die kiesers deelgeneem het, maar die nee-kamp het met 55% van die stemme die botoon gevoer.

Die werklikheid van Brexit is egter nou voor die deur en Skotland het in die referendum oor EU lidmaatskap, ’n meerderheid van 62% ten gunste van voortgesette lidmaatskap gestem.

Met die uittrede van die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie, wil Skotland sy lidmaatskap opneem met die EU as ’n onafhanklike staat, het die organiseerders gesê.