Russiese opposisieleier weer gevange

Aleksej Navalny, die leier van die opposisieparty in Rusland is weereens deur die polisie in hegtenis geneem tydens ’n anti-Poetin optog in Moskou.

Optogte is in die groot stede van Rusland gehou om hulle teenkanting teen president Vladimir Poetin te demonstreer, maar terwyl Aleksej Navalny die slagspreuk “Geen tsaar vir ons” laat dreun het deur die strate van Moskou, het die oorsensitiewe polisiebeamptes toegeslaan op die jong man wat onbevrees sy veldtog voer.

Die optogte regoor Rusland volg twee dae voor president Vladimir Poetin ingesweer word vir sy vierde ampstermyn as president van Rusland.

Op ’n stadium het die optoggangers ’n banier vertoon wat lui dat die president nie ingesweer moet word nie, maar in die tronk behoort te wees.

Onbevestigde berigte is ontvang dat Aleksej Navalny Dinsdag weer vrygelaat is sonder dat enige verhoor plaasgevind het.

Foto – Aleksej Navalny