Rusie tussen VSA en Duitsers oor pyplyn

Die Duitse staat met sy weinige energiebronne, is grotendeels van Rusland afhanklik vir sy gas voorraad, en Rusland se beoogde nuwe pyplyn is die hoofrede waarom daar ’n geskil ontstaan het met die VSA.

Duisende staalpype lê gereed om gekoppel te word en werkers is hard besig in Mukran om die pyplyn na Berlyn te voltooi.

Die pyplyn, wat grotendeels onder op die seebodem gelê word tot by die Baltiese kus van Duitsland, is een van die grootste projekte wat aangepak word om Duitsland van gas energie te voorsien.

Die pyplyn sal ook gas voorsien aan ander lande in Europa, en beskik oor die vermoë om die huidige voorsieningsvolume te verdubbel.

Die Verenigde State van Amerika, sowel as ander bondgenote van Duitsland, het skerp kritiek gelewer teen die beoogde projek en sê dit gee Moskou ’n stewige greep op veral Wes-Europa.

Die lande redeneer ook dat Rusland die gaskrane na die Oekraïne toegedraai het toe dit president Poetin gepas het, en niks verhinder hom om dit met Europa te doen nie.

Duitsland maak swaar staat op die gasvoorsiening uit Rusland, en die nuwe projek kan beteken dat Rusland ’n nog stewiger houvas op die Duitse ekonomie gaan kry.

Foto – Bondskanselier Merkel