Prikkel: Is “volk” regtig van belang?

In vorige prikkels is herhaaldelik na volke en volksbetaan verwys.  Wat is die betekenis van volk?

Blaai ‘n mens deur die sg. antieke geskiedenis is die ontstaan en ontwikkeling van magsryke opvallend.  Daar was bv. die ryke van Ur, Assirië, Ninevé, Egipte en Babel.  Dit was magsryke van 3000 – 5000 jr. v.C.  Nader aan ons tyd was dit die magsryke van Alexander die Grote en Rome (350 v.C. – ⁺⁄₋300 n.C.).  Hierdie magsryke figureer almal in die openbaringsgeskiedenis van God – die Bybel.

Ewe opvallend is dat die magsryke in die Woord getipeer word as simbole van heidense verval om welke rede hulle almal vernietig is.  Veral Babel (Gen. 10-11) word as sinnebeeld van die Antichris uitgelig.  Die naam Babel (Babilon) word selfs sinnebeeldig aangegee as die Antichristelike mag tot en met die wederkoms van Christus (Vlg. Openb. 17-18).

Die kenmerke van die ryke, wat wisselend in almal voorgekom het, word duidelik uitgebeeld in Babel.  Die ryk was saamgestel uit verskillende volke (wat mekaar wisselend opgevolg het), verskillende rassetipes, godsdienstige verval met verskillende afgode en self vergoddeliking van die geweldige rykdom van elke heersersklas wat mekaar opgevolg het, nepotisme en korrupsie, ‘n drukkende lewe van laer klasse wat die sisteem moes dra, en groot toestromende armes (selfs slawe) wat in “plakkergebiede” om die kern saamgetrek het.  Saam met die verskillende volke het godsdiensverdeeldheid en volksverdeeldheid gelei tot twiste, verwoesting en afbraak van vorige heersers se strukture en prestasies.

Te midde van sulke mensgemaakte magsryke het die Here volke in hulle tale en in hulle geslagte geroep (Vlg. Gen. 10-11, Hand. 17:26).  Dit word daaruit duidelik dat God die wêreld deur volke orden en regeer.

Volksbestaan is dus van wesentlike belang.  Ons is as volk hier geplant en tot koninkryksdiens geroep.  Wie dit weerstaan verag die wil van God.

Hendrik v.d. Wateren