Prikkel: Is ons op die pad van ‘n magsryk?

In ‘n vorige prikkel is gewys op kenmerke van ‘n tipiese magsryk.  Volkere, stamme en rassebotsings, gepaardgaande met korrupsie, nepotisme, die afbreek en vervanging van die infrastruktuur sodat daar geen groei is nie, uitermatige rykdom van heersers en uiterste armoede van die bevolking, plundering, roof, moord, sodat die samelewingsorde verval en ‘n toestand van onstabiliteit wat intree.

Hierdie tekens is in die Nuwe-Suid-Afrika sigbaar en aan die groei op die patroon van die rewolusionêre Neo-Marksisme.  Want mense eis die regeermag op vir eie gewin sonder om hulle aan hulle roeping tot orde te steur.  In ‘n kort span van 24 jaar het Suid-Afrika vier presidente uit drie bevolkingsgroepe gehad;  elk met sy eie belange, voorkeure en posisie.

Pres.  Mandela (Xhosa) is deur die De Klerk-bewind en openbare media opgehemel en vrygelaat om sy eie (geweldadige) wil uit te voer.  Hy is daarna verhef tot ‘n wêreld-ikoon (met ‘n Nobel-prys vir vrede) en selfs tot ‘n messiasfiguur, lasterlik vergelyk met Jesus Christus.  Intussen het hy die landsgrense oopgegooi sodat duisendes (miljoene?) toegestroom het – met stemreg ter wille van homself.

Maar daar was meer.  600 misdaadsindikate, moord, roof, gewelddadige botsings en armoede het reeds in 1995 so opgevlam dat S.A. getipeer is as ‘n land wat deur misdaad, korrupsie en tuimelende lewenstandaarde en godsdienstige verval geteister word.  Ter wille van die Madiba-beeld is dit dig gehou.  Intussen het hy persoonlik, miljoene Rande vergader.  En baie geld aan bv. M.K. voorsien.

Pres. Mbeki (Xhosa) het op die patroon van Mandela voortgebou, ‘n Xhosa hierargie in die staatsdiens verder uitgebou terwyl hy die Madiba-beeld vir sy eie voordeel met wêreldreise uitgedra het.  Hy figureer steeds as ‘n soort Afrikaleier.

Pres. Zuma (Zoeloe) het met ‘n mini-magsgreep, Mbeki vervang en dadelik begin om ‘n Zoeloe-hierargie in te voer.

Sy korrupsie-hofsake duur tans nog voort.  Sy nepotisme het sodanig weerstand opgewek dat hy vervang is.  Soos hy gekom het, so het hy gegaan.  Terwyl Mandela en Mbeki hewig gekant was teen Ramaphosa, het Zuma hom nader aan die A.N.C. kern gebring.

Pres. Ramaphosa (Venda) is nog skaars aan bewind.  Hy het skynbaar groot rykdom verwerf deur B.E.E. benoemings, uitgebreide boerderye op dreef gekry en reeds sy eerste politieke slag geslaan met sy grondgryp-wetgewing ter wille van populêre steun.  Sy verdere magsvestiging sal ons moet afwag.

Rassespanning in die land het intussen nuwe hoogtes bereik.  Julius Malema (N. Sotho) munt uit in beledigende aftakeling van Blankes en besonder die Afrikanervolk.  Onder al vier die presidente het hy radikaal maar skynbaar onaatasbaar gebly.  Opvallend het sy radikalisme telkens die presidente, ter wille van hulle eie beeld, in Malema se rigting gedwing.  As sodanig is Malema dus ‘n politieke faktor om mee rekening te hou.

“Ons is een”, die valse (nood) kreet wat ons telkens hoor is die gewisse aanduiding van hewige volks- en geloofsversplintering.  Dit is ‘n duidelike teken van die Rewolusie, van ‘n Neo-Marksistiese magstaat-in-ontwikkeling.  Waarheen lei dit?  Wat ons weet is dat magsryke, klein of groot, in sigself die kern van vernietiging dra.

Hendrik v.d. Wateren