President versoek premier om te bedank

Die president van Roemenië, Klaus Lohannis, het die land se eerste minister versoek om haar bedanking in te dien aangesien sy nie geskik is vir die amp nie.

Die eis kom nadat die eerste minister, Viorica Dancila, ’n reis na Israel onderneem het sonder om dit vooraf met die president uit te klaar.

Spanning is aan die opbou tussen die konserwatiewe president en die linkse regering onder die leiding van die eerste minister,  Viorica Dancila.

Die president sê die premier is nie bekwaam genoeg om die pos van premier te behartig nie en sy word ’n verleentheid vir die land en die regering.

Die linkse regering het egter in stilte besluit om die land se ambassade in Israel te verskuif na Jerusalem, om daarmee hulle steun aan die Jode te gee dat die stad hulle eiendom is.

Die regering het nie vooraf met die president gekonsulteer oor die verskuiwing van die ambassade nie, en daarmee het die spanning nou breekpunt bereik.

Viorica Dancila het in Januarie vanjaar die land se eerste vrou geword wat as eerste minister die land regeer.

Foto – Premier Viorica Dancila