Parlement se waardigheid daarmee heen

Die waardigheid van die parlement is daarmee heen en die vlak van debatte word al hoe swakker aangesien daar enersyds nie meer ag geslaan word op wat lede vir mekaar sê nie, en andersyds omdat die paar minute wat partye tot hul beskikking het om te praat, meestal gebruik word om vernederende skelwoorde na mekaar te slinger en in klankgrepe –  ook bekend as soundbytes – te praat.

Dit is die mening van adv. Anton Alberts van VF Plus (foto).

Hy sê die feit dat die ANC soveel tyd kry om te praat terwyl ander partye se tyd verskraal word tot drie minute of minder, dra ook hiertoe by. Die formule waarvolgens praattyd ingedeel word, moet meer regverdig gemaak word.

“Dit is ontstellend dat die oneffektiewe parlementslede selfs verder afgesink het tot die vlak van skel, beledig en persoonlike dreigemente waar kwalik verbloemde rassisme aan die orde van die dag is. Dit kan nie langer geduld word nie en die parlement sal moet optree om weer respek tussen lede te vestig,” sê adv. Alberts.

Hy reken voorts die toesighoudende rol van die parlement moet ook aandag geniet. Die parlement is grondwetlik verplig om ‘n toesighoudende rol oor die uitvoerende gesag te speel, maar het in ʼn belangrike oomblik in die geskiedenis geweier om dit te doen tydens die Nkandla-sage waar die vorige president Jacob Zuma ten alle koste deur lede van die regerende party beskerm is.