Oostenryk se plan teen onwettige immigrante

In ’n poging om die instroming van onwettige immigrante uit Afrika lande te stop wat Europa binnedring deur die Middellandse See oor te steek, het die kanselier van Oostenryk die afgelope naweek ’n nuwe plan na vore gebring.

Hy is van mening dat die Europese Unie sy grensbeheerbeamptes na lande in Noord-Afrika moet oorplaas om die uittog uit Afrika te voorkom.

Die gedagte is deur kanselier Sebastian Kurz geopper om uitvoering te gee aan sy beleid om die onwettige immigrasie van Afrika lande na Europa te stop.

Kanselier Kurz het die standpunt gehuldig tydens ’n onderhoud met die Duitse koerant, Die Welt, wat Sondag op straat verskyn het.

Die moontlikheid bestaan dat kanselier Kurz die voorsitterskap van die Europese Unie sal oorneem gedurende die tweede helfte van die jaar, waarna uitvoering aan die beleid gegee kan word.

Die jong Oostenrykse kanselier word algemeen beskou as die opkomende ster van Europa, en die konserwatiewe regerings van verskeie lande se hoop is op hom gerig om Europa te verlos van die “oop deur” benadering van Angela Merkel.

Foto – Kanselier Sebastian Kurz