Net 6% misdadigers veroordeel

Navorsing wat die ekonoom Mike Schüssler gedoen het aan die hand van ANC-president Cyril Ramaphosa se ontwikkelingsaanwysers, toon dat die veroordelingsyfer van alle misdade die afgelope tien jaar net 6% is. Terselfdertyd word misdaad al hoe minder aangemeld.

Volgens hom vorder net die helfte van aangemelde misdade tot op die hofrol. Dit beteken dat die gehalte van ondersoeke ook afneem.

Gegewe hierdie situasie kan ʼn mens verstaan waarom vigilante-geregtigheid – alhoewel dit in beginsel verkeerd is – toenemend voorkom en waarom private sekuriteitsfirmas so sterk in die middelklas groei, sê adv. Anton Alberts van VF Plus in sy reaksie op Schüssler se navorsing.

“Die effektiewe en ewewigtige administrasie van justisie is ‘n belangrike onderdeel van enige moderne demokrasie. Sonder dit kan die staat nie die reg opeis om orde te handhaaf nie en is die staat se monopolie op geweld in reaksie op misdadige optrede in die gedrang”, sê adv. Alberts.

Adv. Alberts sê dit is ironies dat die private sektor ‘n rol in die gemeenskap oorneem wat die staat se plig is. Dit skep ʼn gevaarlike omgewing en moet dringende aandag kry.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet ook dringend reggeruk word. Daar is ‘n geldige siening dat die NVG selektief vervolg en dat sommige mense immuun is teen vervolging. Waarom het dit byvoorbeeld so lank geneem om op te tree op verskillende aanklagte van korrupsie teen oud-president Jacob Zuma en die EFF-leier Julius Malema?”

Wat haatspraak-wetgewing aanbetref wil die VF Plus die minister waarsku om toe te sien dat dit ewewigtig toegepas moet word. Dit gaan tot groot polarisasie tussen rasse lei indien daar selektief hieroor vervolg word.

Foto: Mike Schüssler