Negejarige gaps pa se motor

’n Jong seun van nege jaar is deur die polisie van Duitsland gestop nadat die knapie sy ouers se motor gegaps het en daarmee gery het na ’n nabygeleë opelug funksie.

Die seuntjie is so kort dat hy byna nie uit die bestuurder se sitplek op die pad kon sien nie, maar het daarin geslaag om ’n ent weg te ry.

Die jong bestuurder is egter baie gou deur die polisie van die dorp Recklinghausen opgemerk, en van die pad gedwing om stil te hou.

Die seun het darem die hulp gehad van ’n outomatiese ratkas en was dit nie nodig om met sulke kort bene ’n koppelaar te trap nie.

Die seun het op ’n vraag van die polisie gesê hy is op pad terug huis toe, maar die polisie het gesien hy ry in die teenoorgestelde rigting.

Die ouers se motor het met slegs klein skade aan die buite spieël, ongeskend by die huis gekom en is die jong seun ernstig gewaarsku om nie weer so ’n oortreding te begaan nie.