Nasa ruimtetuig gaan Mars ontleed

’n Nasa ruimtetuig het Saterdag die aarde verlaat onderweg na die Rooi Planeet om vas te stel hoe die planeet se samestelling is  wat reeds volgens wetenskaplikes, miljarde jare in die ruimte is.

Die gesofistikeerde satelliet wat vanaf die Van Den Berg Lugmagbasis in Kalifornië gelanseer is, beskik glo oor die eienskap om redelik diep in die “aardkors” van Mars te delf om sodoende te probeer vasstel waaruit die planeet saamgestel is.

Die Atlas vuurpyl wat afgestuur is, dra ’n onbemande eenheid wat sonkrag as energie sal gebruik om uiteindelik die 485 miljoen kilometer tog af te lê oor ’n tydperk van nagenoeg ses maande.

Die sonkrag aangedrewe robot aan boord sal, sodra dit op mars neergestryk het, begin met ’n reeks verskillende programme om inligting te versamel oor die oppervlakte en die dieper dele van die planeet.

Kenners wys daarop dat die ekspedisie ook belangrike inligting sal verskaf om die voorbereidings gereed te kry wanneer mense sonder ’n retoerkaartjie na Mars sal verhuis.