Motorrubriek – Lexus RX350L EX

Die Lexus is een van die mees onderskatte sportnutsvoertuie op die pad. Dit is slegs wanneer die 2018 voertuig van nader bekyk word en dit word vir ‘n toetsrit geneem dat daar eers werklik besef word dat hierdie voertuig ‘n voertuig van uitstaande gehalte is en uitstaan bo sy mededingers.

Die binne-afwerking is van so ‘n aard dat wanneer ‘n mens die motor betree dan vind jy dat die materiaal wat gebruik is van uitsonderlike kwaliteit is. Die sitplekke is beklee met sagte leer en die rubber wat gebruik is sag onder aanraking. Met die groot verskeidenheid van verstellings aan die bestuurder se sitplek is dit moontlik ‘n sitposisie in te neem wat gemaklik en knus is.

Daar is egter nie baie verander aan die suksesverhaal van die vorige model nie. Die wielbasis is onveranderd maar die bak is 110 mm langer en die dak is 10 mm hoër. Dit het tot gevolg dat die binneruim aansienlik groter lyk en voel. Dit is veral wanneer daar na die oorhang van die bak aan die agterkant gekyk word dat die verandering opgemerk word. Die verlenging is gebruik om ‘n derde ry sitplekke te pas. Alhoewel dit uiteraard moeilik is om die derde ry sitplekke uit te kom, is dit nie ‘n onoorkomelike probleem nie. Aan die tweede ry sitplekke is ‘n hefboom gepas wat wanneer dit gedruk word, is dit moontlik om die sitplek leunings van die tweede ry sitplekke plat te vou en kan die sitplekke ook vorentoe geskuif word. Dit het tot gevolg dat wanneer daar passasiers op die tweede ry sitplekke sit, is dit so effe ongemaklik. Vir kinders is die derde ry sit plekke egter ideaal.

Die instrumentpaneel met die nodige instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en kan maklik deur die speke van die stuurwiel gelees word. Die aanraakskerm is in die middel van die instrumentpaneel gemonteer en is maklik bereikbaar en alle nodige inligting kan vanaf dit bekom word. Al die ander standaard toerusting soos ‘n radio, lugversorger en ander toerusting is gemonteer en die afwerking daarvan getuig van goeie werk wat deur die ontwerp ingenieurs gedoen is.

Die veiligheid van die insittendes is nie agterweë gelaat nie. Die sykant lug gordyn is verleng sodat dit ook beskerming bied aan die derde ry sitplekke se passasiers. Wat deel van die veiligheid uitmaak is ‘n verdere ankerpunt vir ‘n bykomende babastoeltjie. Voorts is daar lugsakke vir die beskerming van die voorste passasier se knieë, sykant lugsakke, veiligheidsgordels by al die sitplekke ensovoorts.

Met al die bykomende toerusting het die gewig van voertuig verhoog maar dit is aangespreek in die sin van dat daar meer krag deur die kragbron voorsien word. Inteendeel dieselfde enjin word gebruik maar deur dit meer doeltreffend te maak is die brandstofverbruik verbeter en die beskikbare krag is verhoog. Die tegniese gegewens van die V6, dwars gemonteerde enjin sien soos volg daar uit. ‘n Elektroniese, direkte brandstof inspuitstelsel word gebruik en die boor en slag is 94/83 mm, die kubieke sentimeter van die enjin is 3456, daar is 216 kW beskikbaar, die wringkrag is 358 Nm. Die enjin haal asem deur vier kleppe/silinder en ‘n dubbel oorhoofse nokas sorg dat die kleppe oop en toemaak. Brandstofverbruik volgens die vervaardiger is 10,2 l/100 km.

Die versnelling van 0 tot 100km/u neem 8,3 sekondes en alhoewel die topsnelheid van akademiese belang is, is dit 200 km/u.

Wanneer u u aankooplys saamstel, kan u hierdie voertuig gerus deel maak daarvan.