Motorrubriek – Honda Jazz Sport

Die nuutste toevoeging tot die Honda stal is die Honda Jazz Sport vir 2018. Dit vervang die twee modelle Jazz Dinamic wat voorheen beskikbaar was en dit beloof om ‘n motor te wees wat geniet kan word.

Die nuwe Jazz is net beskikbaar met ‘n CVT ratkas en die krag oorbrenging geskied na die voorwiele. Die ratskakeling geskied seepglad en is eintlik nie eers waarneembaar nie. Dieselfde gebeur wanneer dit terugskakel na ‘n laer rat.

‘n Honda L15B1,1496 kub. sentimeter, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep, inlyn viersilinder kragbron se werkverrigting is “lewendig” en 97 kW is beskikbaar by 6600 o.p.m. en die wringkrag is 155 Nm by 4600 o.p.m. Wanneer die wringkrag ingespan word is die Honda, volgens die vervaardiger in staat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 9,8 sekondes en die topsnelheid is 180 km/u. Die kragbron van die Jazz voorsien 10 Nm meer wringkrag en daar is nege kilowatt meer krag beskikbaar.

Die grondvryhoogte is 135 mm en die bandgrootte wat gebruik word is 185/55R16. Dit is gepas op swart allooi wielnawe maar ongelukkig is die noodwiel nie ‘n standaard grootte wielnaaf nie.

Die buite-aansig van die motor is verder opgekikker met bykomende bak afwerk panele en dit verleen aan hierdie reeds aantreklike motor nog meer sierlike lyne en oral waar dit beweeg trek dit aandag. Hierdie toerusting bestaan uit ‘n nuwe drukvlerk agter, ‘n veranderde sierrooster, ‘n meer prominente voor buffer waarin die kolligte ingebou is en ‘n fyn rooi strepie om die afwerking te voltooi. Die rooi afwerking word ook binne in die motor gebruik.

Binne-afwerking is van ‘n hoë standaard en die indruk word gelaat dat die plek vir die agterste passasiers se bene beperk is, maar dit is nie die geval nie. Daar is meer as genoeg beenruimte en die passasiers kan ‘n gemaklike sitposisie inneem. Die sitplekke is gemaklik en die bestuurder se sitplek het verskeie verstellings om te verseker dat hy/sy ‘n gemaklike sitposisie kan inneem. Die bagasie ruimte wat 359 liter is, kan heelwat bagasie neem en die kattebak deksel maak lekker groot oop. Wanneer die sitplekke plat gevou word verhoog die bagasieruimte na 889 liters.

Die veiligheidsaspek is nie agterweë gelaat nie en dit sluit in ses lugsakke, voorste sitplek- gordels wat outomaties styftrek, ABS remme met EBD, VSC ondersteuning, hoofligte wat outomaties verstel, ‘n lugreëlaar wat die temperatuur outomaties aanpas, spoedbeheer en nog talle ander handige stukke toerusting. Om uit die moeilikheid te bly is daar ook ‘n spoedbeheer stelsel in plek.

Op die snelweg, dorp/stadsverkeer en die gewone paaie gedra die motor dit self baie goed. Dit is solied en selfs met sommige van die paaie wat nie in ‘n baie goeie toestand is nie, is die padgedrag van ‘n hoë standaard.

Hierdie is die ideale eerste of tweede motor en dit is ‘n motor wat oorweeg kan word indien daar ‘n motor aangeskaf moet word.