Motorrubriek – Bentley Bentayga V8

Bentley is een van die oudste en bekendste motors uit die Britse stal en is bekend, nie net vir goeie afwerking nie maar ook werkverrigting.

Wanneer daar na die bakwerk vorm gekyk word kom ‘n mens dadelik onder die indruk dat hierdie ‘n motor van formaat is. Aan die voorkant is die reghoekige sierrooster, die half ovaal hoofligte en die luginlate aan die onderkant, baie opmerklik. Dit spreek van eenvoud maar ook van deeglike beplanning.

Hierdie is ‘n gewigtige voertuig en trek die skaal op 2,4 ton maar dit beteken nie dat dit “traag” is om te beweeg nie! Dit is geensins die geval nie. Dit besit die vermoë om van 0 tot 100 km/u te versnel in 4,5 sekondes. Wanneer daar na die tegniese inligting gekyk word kan ‘n mens dit egter verstaan want nadat die ingenieurs van Bentley dit beet gehad het en so effe verdere ontwikkelingswerk aan die Porche Cayenne enjin gedoen het, is die krag voorsiening van die 4,0 liter V8 met twee turboaanjaers 404 kW en die wringkrag is 770 Nm. Met dit onder regter voet, kan daar nogal taamlik baie gedoen word. Behalwe vir die 0 tot 100 km versnelling is die topsnelheid volgens toetse wat gedoen is 290 km/u.

Op die pad is die padhouvermoë van hoogstaande gehalte en die 8 spoed outomatiese ratkas skakel seepglad oor en wanneer nodig skakel dit net so glad terug na ‘n laer rat.

Die ingenieurs het ook seker gemaak dat dit suinig met brandstof kan werk. Wanneer daar rustig op die pad “verkeer” word skakel vier silinders af en is die brandstofverbruik ‘n welkome 11,4 l/100 km. terwyl die krag nog steeds beskikbaar is wanneer nodig.

Binne-afwerking getuig van goeie smaak. Ligte kleur leer word gebruik vir die sitplekke en selfs aan die stuurwiel is ‘n gedeelte ligte kleur leer sigbaar. Die spoedmeter en toereteller is regvoor die bestuurder gemonteer en is maklik leesbaar deur die boonste gedeelte van verstelbare stuurwiel. Alle ander toerusting soos die aanraakskerm is binne maklik bereikbare afstand van byvoorbeeld die bestuurder gemonteer. Alle ander toerusting is netjies afgewerk en fyn-chroom afwerking rond die prentjie in geheel af. Dubbel-laag glas is gebruik en dit tesame met dik matte verseker dat die isolasie van die voertuig van so ‘n aard is dat buite geluide bykans onhoorbaar is. Op die lang pad kan ‘n mens met gemak en gerief die rit geniet en daarvoor sorg die lug ondersteunde onderstel. Hierdie stelsel is van so aard dat wanneer die voertuig om ‘n draai beweeg en daar vind gewig verplasing plaas, dan bly die bakwerk nogtans gelyk.

Een van die hoogtepunte wanneer daar hard op die brandstoflepel getrap word, is die geluid wat vanaf die V8 gehoor kan word. Dit klink soos musiek uit die boonste rakke.

Alle moontlike voorsorg maatreëls is getref om die Bentley so veilig as moontlik te maak. Die nodige lugkussings is gepas, Veiligheidsgordels is vir alle passasiers beskikbaar en die 440 mm, 10 druksuier van die remme en keramiek skywe sorg dat die voertuig met gemak tot stilstand gebring kan word.

Wanneer daar aan die agterkant van die voertuig kom is die bekende Bentley kenteken in die middel van die agterste deur gemonteer en die agterligte gaan om die hoeke en is duidelik sigbaar van die kant af. Wanneer die bagasiebak se deksel oopgemaak word is daar meer as genoeg plek om jou golfstokke en nog ander bagasie in te pak. ‘n Netjiese drukvlerk met twee uitlaatpype rond die agterste prentjie af en wanneer daar van die kant af na die groot allooi wielnawe gekyk word besef ‘n mens dat hierdie sportnuts voertuig, alhoewel dit groot van bou is, tog ‘n juweel is.

Ai, sou darem graag self een wou besit maar ongelukkig is R3 miljoen en meer so effe bokant my beursie se inhoud.