Minimumloon gaan land baie kos

Die beplande instelling van ʼn minimumloon in Suid-Afrika is ʼn erkenning van die ANC-regering dat hy klaaglik misluk het om die land se ekonomie voldoende te laat groei om armoede en werkloosheid uit te roei.

Dit is VF Plus se voorsitter, adv. Anton Alberts, se mening.

“Weens die hoë vlakke van armoede in die land is daar groot empatie met miljoene mense wat benede die broodlyn leef, en dit sou onmenslik wees om jou blind te staar teen dié lyding van werkloses, vroue, kinders en diere. Die daaglikse protes-aksies regoor die land is simptomaties van hierdie haglike situasie.  Hierdie lyding van mens en dier moet voor die deur van die ANC-regering gelê word. Indien hy in sy tyd as regering ʼn klimaat geskep het vir jaarlikse ekonomiese groei van sowat 6%, sou miljoene werkgeleenthede geskep gewees het en sou die situasie tans anders daar uitgesien het.

“Die skade wat die ANC-regering se beleid aan die land se ekonomie aangerig het, is omvangryk. Talle werkskeppings-geleenthede het verlore gegaan en baie waarde is vernietig deur ondernemings wat eenvoudig hul deure gesluit het en beleggers wat hul geld elders gaan belê het.

“Tydens die openbare verhore oor die Beleggersbeskermingswet, het die Amerikaanse Handelskamer aangedui dié wet sal verhinder dat triljoene dollar Suid-Afrika binnestroom. Die ANC-regering het nogtans die wet deur-gestoomroller en vandag is dit bekend dat Suid-Afrika se handelsbalans negatief is met min buitelandse belegging.

“Die VF Plus is daarom skepties oor president Cyril Ramaphosa se poging om beleggings van ʼn 100 miljard dollar na Suid-Afrika te lok. Hoe gaan hy dit regkry met beleid waaroor talle internasionale handelsvennote groot bekommernis uitgespreek het, soos SEB, hoë belasting en onteiening sonder vergoeding?

“ʼn Minimumloon mag daarom edel klink, maar dit sal die probleem van ongelyk eerder vererger as verbeter. Daar sal dringend na maniere gesoek moet word om die ekonomie te laat groei om te sorg vir werkloses wie se getalle ongetwyfeld aangevul sal word deur ʼn minimumloon,” sê adv. Alberts.