Maak Sjina reg vir oorlog?

Sjina se militêre uitbreiding het waarskynlik begin met die bou van ’n kunsmatige, maar onwettige eiland in die Sjinese Suidsee, en het daarmee hul gebiedswaters verder vergroot.

Etlike maande daarna wemel die berigte oor ’n vliegtuig aanloopbaan wat op die kunsmatige eiland gebou word, en kort daarna word berig dat ‘n ballistiese missielstelsel op die eiland ontplooi is.

Sjina het verlede week sy eerste self vervaardigde vliegdekskip te water gelaat en ’n toetsvaart suksesvol uitgevoer.

In die afgelope week het koerante weereens berig dat Sjina nou van sy mees moderne vegvliegtuie vir die eerste keer laat neerstryk op die eiland se aanloopbaan.

Die Sjinese se staatskoerant het Vrydag berig dat ’n aantal bomwerpers, ingesluit die langafstand kernwapen H-6K, ook by die eiland opgemerk is.

Waarnemers sê dit is Sjina se sielkundige metode om aan die Westerse wêreld te toon dat hy gereedmaak vir enige moontlike konflik, veral omdat die VSA homself onttrek het uit die vryhandel ooreenkoms en reeds begin het met invoerheffings teen Sjina.

Sjina wil egter nie die nuuskierigheid van die wêreld bevredig nie, en sy minister van verdediging het die bedrywigheid by die kunsmatige eiland beskryf as standaard oefeninge van die land se militêre magte.

Sjina se militêre uitgawes het in 2017 die rekord bedrag van $1,7 triljoen beloop, en het dit vir 2018 verder verhoog.