Leerlinge stel motoriste in gevaar

Dit is onaanvaarbaar dat ʼn skool sy leerlinge misbruik om in lewensgevaarlike omstandighede op ʼn openbare pad protes teen geriewe by die skool aan te teken en sodoende nie net hul eie lewe nie, maar ook dié van motoriste in gevaar stel.

Meer kommerwekkend is die toenemende neiging in Suid-Afrika om deur middel van gewelddadige protesaksies  onskuldige landsburgers te intimideer en te viktimiseer weens die onbevoegdheid en swak dienslewering van die ANC-regering.

Mnr. Jaco Mulder, VF Plus se leier in Gauteng, moes gister skerp rem om ʼn ongeluk te vermy toe ‘n groep oproerige leerlinge in skooldrag voor motors op ‘n openbare pad ingestorm het in ʼn poging om die pad te blokkeer.

Die voorval het omstreeks 9:00 net ná die Brandvlei-kruising in die Randfontein-distrik buite Tarlton plaasgevind. ‘n Groep van vermoedelik meer as honderd jong leerlinge, geklee in maroen hemde en grys broeke, het met plakkate langs die pad gestaan en skielik voor verkeer die in pad in beweeg.

‘n Groep motors was genoodsaak om skielik te rem. Sommige moes stilhou en ander het stadig deur die groep beweeg. Van die kinders het hard met hul hande en vuiste aan die motors geslaan, ook dié van mnr. Mulder. Kliek op die volgende skakel om na die videogreep te kyk: https://www.facebook.com/VFplus/videos/10156888804279453/

Mnr. Mulder was onderweg na Stilfontein vir ‘n afspraak met die provinsiale leier van die VF Plus in Noordwes, mnr. Michal Groenewald.

“Die situasie in Suid-Afrika het nou brandpunt bereik en dit herinner aan die jare sestig waar kinders as kanonvoer gebruik is in die stryd teen die destydse regering. Hoe ironies dat kinders in hierdie geval ingespan word teen die ANC-regering,” sê mnr. Mulder.

Mnr. Mulder gaan ‘n klag oor die aangeleentheid by die Gautengse onderwysdepartement indien teen die hoof van die Ithuleng Secondary School in Brandvlei, mnr. Piet Baloiy, wat die leerders glo aangehits het om op hierdie wyse protes aan te teken weens ʼn tekort aan klaskamers.

Foto: Mnr. Jaco Mulder