Land se kinders in die steek gelaat

Die nasionale departement van basiese onderwys en sy provinsiale filiale is besig om die land in sy geheel, maar veral die kinders van die land, te faal.

So sê VF Plus se voorsitter, adv. Anton Alberts in ‘n verklaring.

Hy sê daar is sedert 1994 deur die ANC op leerders geëksperimenteer met verskillende opleidings-filosofieë, soos uitkomsgebaseerde onderrig, wat reuse skade veroorsaak het. Die gevolg is ʼn geslag wat skool verlaat sonder om behoorlik te kan tel, skryf of lees. Dit maak van die hoër slaagsyfers ‘n nasionale grap.

“Die ongeletterde kinders wat skool verlaat sonder hoop is ‘n nasionale tragedie. Die ANC-regering het die kinders van die land met minagting behandel en die VF Plus hoop die jong mense onthou dit die dag wanneer hulle mag stem.

“ʼn Verdere tragedie is skrikwekkende swak prestasie-uitkomste, ten spyte van die enorme begroting wat die nasionale- en provinsiale departemente jaarliks ontvang. Die land se vlak van wiskunde- en wetenskap-geletterdheid lê elke jaar op die laagste rangorde in die wêreld. Dit is ‘n nasionale skande.

“Wat die skande groter maak is die ANC se openlike aanvalle op Afrikaanse skole en moedertaalonderrig in die naam van toegang terwyl nuwe skole nie gebou word nie, ten spyte van die bestaan van ‘n reuse begroting daarvoor,” sê adv. Alberts.