Koreaanse offisier vlug van Noord na Suide

’n Senior majoor van die Noord-Koreaanse weermag het saam met ’n burgerlike inwoner besluit om te vlug na die suidelike buurstaat om van die kommunistiese bestel ontslae te raak.

Die twee vlugtelinge is in die Geel See gevind waar hulle probeer het om na die kusgebied van Suid-Korea te swem.

Dit is die eerste keer in die afgelope dekade wat ’n militêre offisier van die kommunistiese Noord-Korea vlug na Suid-Korea.

Die twee vlugtelinge is in ’n klein bootjie opgemerk wat onderweg na die kus was, en die laaste ent geswem het om voet aan wal te kry.

Die twee het by aankoms op die strand van Suid-Korea aan beamptes te kenne gegee dat hulle hulself onderwerp aan die owerheid se beslissings, maar wil nie terugkeer na die Noorde nie.

Die voorval vind plaas etlike weke nadat die twee lande se leiers samesprekings gehou het om ’n beter onderlinge verhouding te vestig, en kort voordat ’n ontmoeting tussen president Trump van die VSA en Kim Jong-Un plaasvind.

Oor die jare het meer as 30 000 mense uit Noord-Korea na die Suide gevlug, en omdat die grens tussen die twee lande streng bewaak word, het die grootste aantal deur die Geel See gevlug.