Kommuniste van Sjina en Korea weer byeen

Die leiers van Sjina en Noord-Korea is vir die tweede keer binne ses weke weer bymekaar om besprekings te voer oor die voorneme van Kim Jong-Un om met die Amerikaanse president te vergader.

Gerugte lui dat die Koreaanse leier by die Sjinese president, Xi Jinping, kers opsteek oor watter benadering gevolg moet word in die gesprek met president Donald Trump.

Die mees opvallende van die tweedaagse besoek is dat samesprekings buite enige gebou gevoer is, wat die indruk laat dat enige moontlike meeluistering uitgeskakel moes word in die hoogs geheimsinnige gesprekke.

Die ontmoeting in die Sjinese stad Dalian is wyd deur die media verkondig, maar die inhoud van hulle gesprekke is ’n duistere geheim.

Die Sjinese media het met vae begrippe gesê die twee leiers het bilaterale aangeleenthede bespreek wat ook die historiese ontmoeting met president Donald Trump insluit.

President Xi Jinping het egter beklemtoon dat Sjina ’n sterk voorstander is vir die beëindiging van Noord-Korea se kernwapen program, maar het niks gesê oor die moontlikheid dat die kernwapenaanleg ook ontbondel en vernietig moet word nie.

Intussen is verneem dat Kim Jong-Un sy kernprogram staak weens die onherstelbare skade wat aangerig is by die aanleg tydens ’n poging om ’n missiel te lanseer, wat beteken dat die vervanging of herstel daarvan onbekostigbaar is.