Kataloniërs ten gunste van Puigdemont

Die Spaanse regering het die uitspraak van ’n regter gekry om die verkiesing van Carles Puigdemont ongeldig te kry vanweë sy afwesigheid in die land.

Die parlement van Katalonië het egter ’n wysiging in die kieswet goedgekeur wat dit nou moontlik maak om die minister-president te kies sonder dat hy in Katalonië is.

Dit het Madrid genoop om die Grondwetlike Hof te nader vir ’n tweede keer, nadat dié hof ook in Januarie beslis het dat Puigdemont in die land moet wees, en in die parlement van Katalonië ingehuldig kan word, maar nie op enige ander wyse nie.

Regslui beweer dat die Grondwetlike Hof nou moet beslis of die wysiging in die kieswet van Katalonië geldig is al dan nie.

’n Woordvoerder van die separatiste wat Puigdmont ondersteun het gesê dat ’n “alternatiewe minister-president vir Katalonië gesoek sal word” indien die Grondwetlike Hof die verkiesing van Puigdemont nietig verklaar.

Katalonië het tyd tot 22 Mei om sy nuwe regering saam te stel, wat blyk dat ’n opvolg verkiesing gehou gaan word indien die separatiste nie ’n minister-president aangewys het nie.

Foto – Carles Puigdemont