Italië steeds sonder regering

Italië is steeds sonder regering nadat die nuut aangewese kandidaat vir die amp as eerste minister, die afgelope naweek sy kandidatuur teruggetrek het.

Giuseppe Conte, ’n professor in regte, se poging om ’n kabinet saam te stel uit geledere van die konserwatiewe Vyf Ster en nasionalistiese Liga, is deur die Italiaanse president van die hand gewys.

Sy poging om ’n kabinet saam te stel uit persone wat gekant is teen die Euro-konsep, het misluk veral met die aanwys van ’n 81-jarige ekonoom, wat daartoe gelei het dat die finansiële markte skerp gereageer het.

President Sergio Mattarella het verlede week goedkeuring gegee dat Giuseppe Conte ’n nuwe kabinet en koalisie regering saamstel.

Die mislukte poging het die kandidaat premier laat besluit om terug te staan, en dit laat Italië nou vir 84 dae sonder regering terwyl die spertyd 80 dae is.

Dit is die langste wat Italië nog sonder ’n amptelike regering sit, en kan beteken dat ’n tussentydse regering aangewys word wat die plig het om ’n nuwe algemene verkiesing uit te skryf en te bestuur.

Foto – Giuseppe Conte