Italiaanse regering skud Europa

In Brussel, Parys en Berlyn gons die politici oor ’n dokument wat deur die nuut saamgestelde koalisiepartye van Italië opgestel is as deel van hulle toekomstige optrede.

Die 5-Ster regering wat ’n koalisie aangegaan het met die nasionalistiese Liga het gesamentlik besluit dat ’n referendum gehou gaan word in die land om die kiesers te toets oor voortgesette lidmaatskap van die Europese Unie.

Die opgestelde dokument wat klaarblyklik na die media gelek is, dui daarop dat die regering ’n referendum beoog met die doel om uit die Europese Unie weg te breek soos Brittanje.

Die dokument is deel van die koalisie ooreenkoms tussen die 5-Ster beweging en die Liga, en word uittrede uit die EU voorsien as die kiesers ten gunste daarvan sou stem in ’n referendum.

Waarnemers reken dit is die begin van die einde van die Europese Unie, en sodra Italië onttrek sal ander Europese lande dieselfde roete volg.

Die twee lande wat die hardste getref sal word, is Duitsland en Frankryk wat alles moontlik doen om die EU staande te hou.

Die konserwatiewe regering van 5-Ster sê egter die dokument is ’n konsep wat onderhewig is aan goedkeuring.

Foto – Leier van die 5-Ster Beweging