Indië en Sjina bereik grens ooreenkoms

Die eerste minister van Indië en die Sjinese president, Xi Jinping, het ’n ooreenkoms onderteken wat die grens tussen die twee lande tot ’n vredesterrein verklaar.

Die ontmoeting tussen die twee politieke leiers word as uiters merkwaardig beskou aangesien daar nooit ’n groot liefde tussen die twee lande was nie.

Die informele ontmoeting waartydens die ooreenkoms aangegaan is, is later deur die Sjinese president as ’n besondere mylpaal in bilaterale verhoudings beskryf .

Die ooreenkoms volg nadat ’n ernstige dispuut tussen die twee lande ontstaan het oor die grens tussen Sjina en Indië.

Die Indiese premier het egter ’n blitsbesoek gebring aan die Sjinese stad, Wuhan, en na ’n lang gesprek met die Sjinese president is die ooreenkoms onderteken, en hy het 24 uur later weer sy voete in Indië neergesit.

In 1962 het oorlog uitgebreek tussen die twee lande oor hulle verskille met die landsgrens wat oor ’n afstand van meer as 3 500 kilometer strek.

Indië bly egter versigtig om enige bande met Sjina te smee weens die land se pogings om nuwe ooreenkomste met Pakistan aan te gaan.

Foto – President Xi Jinping en premier Narendra Modi