Immigrant red 4-jarige seuntjie

Mamoudou Gassama, ’n immigrant wat in Parys woon, het die naweek ’n 4-jarige seuntjie van ’n gewisse dood gered toe hy die hangende kind by ’n balkon kon afhaal.

Die kind se ouers wat nie tuis was nie, en die seun alleen in die woonstel gelos het, word nou deur die polisie ondervra.

Dit is nie seker wat daartoe gelei het dat die seuntjie op die vierde verdieping se balkon was en vir al wat hy kon, moes klou om nie oor die afgrond te stort nie.

Die immigrant het die gebou se mure uit geklim en daarmee sy eie lewe gewaag om die seuntjie te red.

President Emmanuel Macron het die dapper, en waaghalsige  Mamoudou Gassama uitgenooi om besoek te bring aan die Franse president se paleis waar hy op eg Franse gasvryheid ontvang is.

Die dapper man, wat nou deur Parys se inwoners herdoop is tot Spiderman, het homself van balkon tot balkon opgetrek tot by die seuntjie wat hy kon help om weer vastigheid onder sy voete te kry.

Intussen het die brandweer owerheid van Parys aan hom ’n pos aangebied vanweë sy dapper optrede.

Foto – Mamoudou Gassama klim van balkon tot balkon