Hawai vulkaan raak onstuimig

Vreesaanjaende rookwolke en dertig meter hoe warm lawa het onverwags uit die Hawaise vulkaan op die Groot Eiland uitgeborrel en sedert Vrydag het derduisende mense vreesbevange die gebied verlaat.

Die voorspel tot ’n moontlike uitbarsting volg op ’n reeks aardbewings wat die eiland die afgelope dae gehad het en wat paniek onder inwoners gesaai het.

Die Kilauea vulkaan op die Groot Eiland het warm lawa en rookwolke die lug ingeblaas waarvan stukke warm lawa in woongebiede geval het en talle woonhuis is beskadig.

Inwoners is oor ’n groot gebied gevra om die area te verlaat tot die uitbarstings bedaar het, maar kenners meen dit kan weke lank voortduur.

Deskundiges het egter gewaarsku dat die aanhoudende aardbewings ’n aanduiding kan wees dat die lawa-uitbarsting baie lank kan duur, en selfs maande mag voortwoed wat die gebied onbewoonbaar maak.

Die aardbewings, wat met tussenposes van tien minute plaasvind, is in die een gebied waar sowat 10 000 mense woon, maar word beskou as ’n uiters gevaarlike terrein wat vermy moet word.

Woordvoerders sê die paaie na die gebied is gesluit weens die groot krake wat daarop voorkom en wat dit onbegaanbaar gemaak het, terwyl verslae ook daarop dui van kragonderbrekings en water toevoer wat afgesny is.

Die owerheid het sy kommer uitgespreek oor die groot aantal mense in die gevaarsone wat steeds weier om hulle woonplekke te verlaat.

Die uitbarsting van die wêreld se grootste vulkaan is tans die ergste wat dit nog was in die afgelope veertig jaar.