Giuseppe Conte kry mandaat in Italië

Italië se president, Sergio Mattarella, het die aangewese kandidaat, Giuseppe Conte, ’n mandaat gegee om as eerste minister ’n kabinet saam te stel.

’n Koalisie tussen die konserwatiewe Vyf Ster beweging en die nasionalistiese Liga het gesamentlik die meeste stemme gekry in die afgelope verkiesing te midde van sterk pogings deur die linkse partye om die Vyf Ster te diskrediteer.

Die 53-jarige professor Giuseppe Conte word daarvan beskuldig dat hy geen politieke ervaring het om Italië te regeer nie, maar die konserwatiewes sê as Donald Trump die VSA suksesvol kan regeer sonder vorige politieke ervaring, dan kan die professor dit ook doen.

Conte het gesê hy is baie bewus van die uitdagings en probleme waarmee Italië sit, en sal ook sy oog hou op die begroting van die Europese Unie omdat dit die land direk raak.

Hy sal ook besondere aandag skenk aan die hervorming van vlugtelinge en asielsoekers se regte wat bepleit word deur die EU en sê die sukkelende bankwese sal ook ernstige aandag kry van sy regering.

Foto – Giuseppe Conte