Geweld op N3 kos R25 miljoen

Stemme gaan skielik op oor die geweld op die N3 waartydens 18 vragmotors aan die brand gesteek is en 20 ander geplunder is.

Die SA Kamer van Handel en Industrie het hul “diepe teleurstelling” uitgespreek oor die gebeure.  Dit is volgens die kamer nie aanvaarbaar dat nasionale paaie geblokkeer word as die mense protesteer nie. Volgens die hoofuitvoerende beampte, Alan Mukoki, is daar ’n kultuur aan die ontwikkel wat mense “verplig” om gewelddadig op te tree sodat hul griewe aangespreek kan  word.

Die ANC het egter dié kultuur van geweld reeds gekweek tydens hulle sogenammde “struggle jare” en pluk nou die wrange vrugte van hul eie maaksel en behoort pa te staan vir hul kamerade se optrede.

Die LUR vir Vervoer in Natal, Mxolisi Kaunda, glo dat ontevrede vragmotorbestuurders agter die geweld is, omdat hulle ontevrede is omdat buitelanders in diens geneem word. Kaunda het die geweld as barbaars beskryf.

Minstens 50 mense is intussen in hegtenis geneem in verband met die chaos op die N3 en sal binnekort in die hof verskyn.

Intussen word die skade voorlopig op ten minste R25 miljoen beraam.