Facebook skandaal lei tot oorgawe

Die maatskappy wat na bewering die data van meer as 80 miljoen Facebook gebruikers aangewend het om president Donald Trump se verkiesing te bevorder, was verplig om sy deure finaal te sluit.

Cambridge Analytica se ander vennoot maatskappy het ook hulle deure gegrendel om nie weer oopgemaak te word nie.

Cambridge Analytica is glo die hart van die Facebook skandaal wat ook daartoe gelei het dat derduisende mense regoor die wêreld besluit het om hulle verbintenis met Facebook te verbreek.

Facebook se grootbaas moes aan verskeie regerings verduidelik wat gebeur het, en het telkens die vernedering beleef om te moes verskoning aanbied omdat hulle nie genoeg gedoen het om gebruikers te beskerm nie.

Die oprigter en hoofuitvoerende beampte van Facebook, Mark Zuckerberg, was ook later verplig om Facebook se verskoning op die hoofblad aan te bied vir sy gebruikers, en moes selfs sovêr gaan as om dit vir die gebruikers makliker .te maak om hulle name verwyder te kry uit die stelsel.

’n Woordvoerder van Cambridge Analytica het erken dat die media se beriggewing daartoe gelei het dat hy feitlik al sy kliënte verloor het.