Eenduisend gyselaars gered

Meer as ’n duisend mense wat deur die terroriste groep Boko Haram as gyselaars aangehou is, het hulle vryheid terug nadat die Nigeriese weermag toegeslaan het op ’n terroristebasis.

Die oorgrote meerderheid van die gyselaars is vroue en kinders, maar daar is ook mans aangehou wat gedwing was om as terroriste te veg.

’n Nigeriese weermag woordvoerder het gesê ’n goed beplande operasie het die weermag in staat gestel om die mense te bevry in die noordoostelike del van Nigerië wat deur die terreurgroep beheer is.

Talle van die gyselaars wat verlos is uit die basis is skoolkinders wat in 2014 deur die terroriste ontvoer is en wat vir meer as drie jaar aangehou is as slawe.

Die weermag het toegeslaan op vier klein dorpies waar die mense gyselaar gehou is, en kon glo daarin slaag om talle lede van die terroristebeweging te skiet wat as wagte gedien het.

Meer as 20 000 mense is die afgelope nege jaar deur Boko Haram gedood in Nigerië, en etlike duisende mense was as slawe misbruik deur die terreurgroep.