Dosyne sterf in stofstorm

Minstens 72 mense het omgekom in Indië waar stofstorms in die noorde van die land verwoesting gesaai het.

Die stofstorms is opgevolg deur hewige donderbuie wat gelei het tot die besering van meer as 100 mense.

Die Indiese president, Ram Nath Kovind, het sy meegevoel betuig met die naasbestaandes en gesê dit was een van die ergste storms wat Indië nog getref het.

Swaar stofstorms wat gepaard gaan met sterk wind is ’n algemene gesig in die noordelike gebiede van Indië, maar die jongste voorval was veel erger as in die verlede.

Die mense wat omgekom het was meestal te voet op reis elders heen, en kon glo nie betyds skuiling vind teen die erge storms nie.