Balju vat Vaal munisipaliteit se bates

Amptenare van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) moes verlede Donderdag hul werksaamhede summier stop toe die balju15 rekenaars en ‘n aantal kantoorstoele uit die kantore van die munisipale bestuurder en krediet-kantore verwyder het.

Hierdie aksie is sekerlik een van vele wat gaan volg omdat die Emfuleni-munisipaliteit nie hul diensverskaffers betaal nie. Hierdie mense is genoodsaak om hulle tot die hof te wend in ‘n poging om hul uitgawes te verhaal.

Diensverskaffers wat uitgekontrakteer is om vullisverwyderingsdienste te behartig, kan ook nie meer soos in die verlede weekliks by huise aandoen nie. Die dienste word nou op ‘n maandelikse basis gelewer weens ernstige brandstoftekorte.

‘n Verdere probleem is dat net drie vragmotors vir vullisverwydering gebruik word omdat die stadsraad die kontrakteur R9 miljoen skuld vir dienste gelewer. Intussen hoop vullis oral op en is ‘n gesondheidsgevaar onafwendbaar as die situasie voortduur.

Gerda Senekal, VF Plus raadslid, sê hulle kantore word oorval met oproepe van inwoners wat dreig om hul dienstegeld terug te hou weens die swak dienslewering op die dorp.