Apartheid vs instromingsbeheer

In die vroeë sestiger jare is daar deur die regering van die dag sekere maatreëls getref om ‘n ordelike samelewing in Suid Afrika daar te stel. Van die maatreëls was instromingsbeheer wat verhoed het dat persone oor grense heen verhuis het, veral vanuit landelike gebiede na stedelike gebiede.

Voeg hierby die Groepsgebiede Wet van 1950 wat daargestel was om etniese groepe bymekaar te konsentreer.  Dit was dan ook deel van die sg. apartheidswette.

In die tydperk tot en met die 1990’s het Suid Afrika dan ook ekonomies floreer en het die onderskeie bevolkingsgroepe in relatiewe vrede geleef.  Die oorgawe in 1994 aan ‘n wettelose regering het  die einde beteken van aparte gebiede, skole ens.

Die gevolge van die oorgawe het gelei tot ‘n multikulturele samelewing waar almal saam gegooi is met die gevolg dat daar spanning en botsings  tussen etniese groepe en volkere voorgekom het.

Rassespanning was nog nooit so hoog as in 2018 nie.  Nou bykans 25 jaar later gaan stemme skielik op vanuit die swart geledere dat die regering instromingsbeheer moet toepas.  Stemme vanuit Soweto en vanuit die Wes-Kaap.

Plekke waar die plaaslike gebiede oorstroom word deur mense vanuit ander gebiede, nou is werksgeleenthede in gevaar, nou kan eiendomswaarde daal weens plakkerskampe in die omgewing.  Nou word prontuit gesê die mense steel ons water en krag.  Die mense bring dwelms in ons gebiede in.  Dit is diegene wat moor en verkrag.  So kan daar nog vele ander argumente  geopper word.

Wat is die versoeke rondom instromingsbeheer in 2018 anders as wetgewing in die Ou Suid-Afrika wat etniese groepe bymekaar gegroepeer het en sodoende  homogene gebiede daar gestel het waar rus, vrede en voorspoed geheers het?

Al verskil is dat dit swart stemme is wat nou opgaan en ironies genoeg is dit nie wit of blanke instroming wat “beheer”  moet word nie maar swart instroming.

Waarom mag daar dan nie vanuit Blanke Afrikaner geledere stemme opgaan en pogings aangewend word om ‘n eie plekkie in die son te verkry waar hulle tussen hulle mense kan bly nie?  Waarom word alle pogings vanaf die kant van die Boere Afrikaner Volksraad of verswyg of afgebreek as synde komende van verregse mense wat weer apart wil leef?

Die volgende maande sal beslissend wees waar daar weer gewerk word na ‘n tweede verkiesing van ‘n Boere Afrikaner Volksraad wat die Volk se saak sal moet stel.  Die keuse berus by elke Afrikaner of hy werklik daarna streef om eenkant te wil leef en te oorleef en of hy wil opgaan en heengaan in ‘n veelrassige multikulturele samelewing .

Dr Sakkie van der Merwe