Turkye hou vervroegde verkiesing

Uit vrees dat die nuutgestigte politieke party ’n groot deel van die kiesers se steun mag trek, het die land se omstrede president ’n vervroegde algemene verkiesing aangekondig.

Die verkiesing is met ’n jaar vervroeg ten einde die nuutgestigte politieke opponent min geleentheid te bied om werwingswerk te doen voor die verkiesing wat op 24 Junie gehou sal word.

’n Woordvoerder van die regering het gister aangekondig dat die verkiesing vervroeg word omdat dit die eerste verkiesing is wat gehou kan word na die mislukte staatsgreep waartydens gepoog is om ontslae te raak van die huidige president.

Die verkiesing moet ook ’n mandaat wees aan die president om grondwetlike wysigings aan te bring wat sy magte verder sal uitbrei.

President Erdogan het die vervroeging toegeskryf aan die krisis in Sirië en die stryd teen die Koerde wat gevoer word deur die Turkse weermag.

Waarnemers wys egter daarop dat die president se magsug om die grondwet gewysig te kry tot sy persoonlike voordeel, die hoofrede is aangesien die nuutgestigte party so ’n wysiging kan verhoed as die verkiesing eers oor 18 maande gehou sou word.

Foto – President Recep Tayyip Erdogan