Suid-Korea skakel propaganda luidsprekers af

Die luidsprekers van Suid-Korea wat na aan die grens met Noord-Korea opgerig is en daagliks propaganda uitsaai wat deur die kommuniste gehoor kan word, het skielik stil geword.

Die stilte kom nadat reëlings gefinaliseer is dat die twee land se leiers Vrydag vir die eerste keer in ’n dekade sal ontmoet.

Die twee leiers het aansienlike moeite gedoen om die klimaat te skep vir ’n ontmoeting wat bedoel is om beter verhoudinge te kweek.

Teen middernag het die luidsprekers wat propaganda en popmusiek uitgesaai het, stil geword en het ’n vreemde kalmte oor die gebied neergedaal.

Die minister van verdediging in Suid-Korea het gesê die luidsprekers is afgeskakel met die hoop en verwagting dat beter betrekkinge tussen die twee lande sal ontstaan, en daarom is die musiek en propaganda nie nodig nie.

Die optrede volg nadat Noord-Korea gesê het hy het geen verdere kernwapen toetse nodig nie, omdat hy reeds bereik het wat ten doel gestel is.

Intussen is verneem dat die Sjinese president groot druk op die leier van Noord-Korea uitgeoefen het om die klimaat te skep vir samesprekings ten eind gewelddadige konflik te voorkom.