Spanje se mistasting in Katalonië

Nege politieke en sosiale leiers van Katalonië is in vooraf verhore vir tot ses maande in aanhouding vir hulle aandeel in die referendum en onafhanklikheidsverklaring wat verlede jaar deurgevoer is onder leiding van Carles Puigdemont.

Die nege leiers is daarvan beskuldig dat hulle deel was van ’n rebellie en dus tronkstraf opgelê kan word wat wissel van 15 tot 30 jaar.

Die aanhouding spruit uit die referendum oor onafhanklikheid wat verlede jaar op 1 Oktober deur die separatiste gewen is, waarna die verkose minister-president, Carles Puigdemont, die streek se onafhanklikheid van Spaanse oorheersing aangekondig het.

Daarna het die Spaanse polisie toegeslaan op die politieke leiers, maar Carles Puigdemont het uitgewyk na België, en alhoewel die Spaanse regering ’n uitleweringsbevel uitgereik het, is dit deur België geïgnoreer omdat dit nie ’n geldige bevel was nie.

Intussen het regsverteenwoordigers vasgestel dat volgens die Spaanse regstelsel, word die geval van die separatiste vergelyk met ’n vroeëre voorval en is die optrede bestempel as een met dubbele standaarde.

Volgens die koerantberigte is die hou van ’n referendum in ’n streek nie onwettig nie, en is die onafhanklikheidsverklaring soos wat Katalonië gedoen het, ook nie onwettig of ’n daad van rebellie nie.

Dit word glo afgelei van Artikel 472 van die Kriminele Kode wat in elk geval reeds in 2005 verwyder is.

Waarnemers meen dit kan ’n lang uitgerekte hofsaak word waarvan Spanje uiteindelik aan die verloorkant kan staan.

Foto – Carles Puigdemont en ondersteuners