Sjinese ruimtetuig stort neer

’n Ruimtetuig van Sjina wat reeds meer as sewe jaar in ’n wentelbaan om die aarde diens verrig het, en nou teruggebring is na Moeder Aarde, het glo in stukke gebreek toe dit die aarde se atmosfeer binnedring.

Die Tiangong-1 ruimtetuig het glo sy tyd uitgedien en het met sy terugkeer na die aarde opgebreek en in die suidelike deel van die Stille Oseaan neergestort.

Die Sjinese het reeds twee jaar gelede kontak verloor met die tuig wat as laboratorium diens gedoen het, en moes uiteindelik bes gee en die vaartuig terugbring.

Waarnemers sê die grootse deel van die verbrokkelde tuig het feitlik geheel en al uitgebrand voordat dit in die see beland het.